Ewekansige veranderlike

Hierdie grafiek wys hoe ewekansige veranderlike 'n funksie is van alle moontlike uitkomste tot werklike waardes. Dit wys ook hoe ewekansige veranderlike gebruik word om waarskynlikheidsmassa-funksies te definieer.

'n Ewekansige veranderlike, (ook genoem ewekansige hoeveelheid, aleatoriese veranderlike, stogastiese veranderlike of toevalsveranderlike) is 'n wiskundige formalisering van 'n hoeveelheid of voorwerp wat van toevallige gebeure afhang.[1]

In die waarskynlikheidsleer en statistiek, is 'n stogastiese veranderlike rofweg gesproke 'n veranderlike wie se waarde van die meting van een of ander lukrake (of toevalsgedrewe) proses spruit.

In baie toevalseksperimente, soos steekproeftrekkings, word uit 'n populasie per toeval 'n element, b.v. 'n willekeurige verbyganger, aangewys. Ons vra hierdie verbyganger oor sy leeftyd, inkomste, ens. Vooraf weet ons nie wat ons as antwoord sal kry nie, agteraf wel, maar by herhaling tref ons vermoedelik 'n ander verbyganger, met waarskynlik heel andere antwoorde. Om in die teorie oor 'die leeftyd van 'n willekeurige verbyganger' te kan praat is die begrip stogastiese veranderlike ingevoer. Die toeval wys 'n uitkoms aan – een of ander verbyganger – en aan hierdie uitkoms wys ons 'n getal toe – sy leeftyd. Hieruit blyk dat 'n 'stogastiese veranderlike' 'n afbeelding van die uitkomsruimte na die reële getalle is.

  1. Blitzstein, Joe; Hwang, Jessica (2014). Introduction to Probability. CRC Press. ISBN 9781466575592.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search